Labels

Tuesday 10 September 2013

Stofstorms van ons lewe


Sjoe en daar is die stofstorm ook weer verby, dankie tog.  Die weer word so snaaks geel dan tel die wind op en dan gaan dit gepaard met die sand/stof. 
Jy raak kwaad want jou huis is nou net skoon gemaak.  Maak nie saak hoe dig toe alles is nie die stof kom nogsteeds in. As jy buite is en so iets tref jou dan is dit ‘n belewenis en hier moet ek nou hardop lag,want jou oë is vol sand, al wat jy in jou mond proe is sand korreltjies. Wie sê sand is nie gesond om te eet nie, ons het dit dan as kinders gedoen. As jy gelukkig is hier in die woestyn dan sal jy so tien korreltjies reën sien val daarna. Dan lees jy in die koerant dat hulle vir die volgende 3 dae elke dag een voorspel, jou moed wil in jou skoene sak. Hieraan raak jy ook gewoond want dit is tog deel van God se mooi al is dit net 'n stofstorm.   
 
 Dra ons tog ook nie storms in ons lewe nie.  Kyk maar om ons heen en sien die mense daarbuite elkeen met hy of sy elkeen met hulle eie pyn.  Dood, geweld, finansiele druk, moord, selfmoord  jy noem dit en dit is daar jy kan nie daarby verby kyk nie.

Maar dan bring die Here Jesus, wanneer ons na  Sy woorde luister en doen wat Hy sê (Matt 7:24), tog weer nuwe perspektief en hoop op alles. Nie dat ons aanvegtinge en ellende ligter sal wees wanneer die storms ons tref nie. Maar wanneer die vloed van vrees en angs oor ons kom, sal Hy ons staande hou!  Wanneer die storms van die lewe aan alles ruk en pluk wat vir ons tot nou toe vas en seker gelyk het, dan sal ons in geloof en vertroue aan Hom veranker wees. Wanneer dit lyk of alles waaraan ons tot nou toe geglo het en wat vir ons belangrik en waardevol was, wil ineenstort, sal Hy dáár wees om ons te versterk. Wanneer dit vir ons wil lyk asof daar geen werklike sin meer in die lewe is nie, sal Hy die sin van ons lewe word. Ons sal leer wat ‘n nuwe lewe in Christus beteken. Dan sal ons beleef dat die volgende waarheid vasstaan: "Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.

No comments:

Post a Comment