Labels

Thursday 24 October 2013

U die Pottebakker

Vader U is my alles, U is my Redder, U is my Voorsiener, U is my Geneesheer, U is die begin en die einde, ek lê myself voor U neer vanaand.  Ek is net die klei, maar U is die Pottebakker, vorm my en maak my, net soos U wil. Vergewe my al my sonde, en Vader help my om ander ook te vergewe. Ons is so geneig om vergifnis te verwag, maar ons wil nie die verlede se seer wat ander ons aangedoen het vergewe nie. Vader help ons te kan streef om soos U te wees. Ons vra dit in Jesus Naam; Amen

"Doen slegs U wil, Heer, U Wil met my,
U, Pottebakker, met my die klei;
Vorm my en maak my net soos U Wil,
Op U slegs wag ek, nederig en stil


 

Wie is in beheer van jou lewe!

"Soos elke keer wanneer ek U goeie gawes geniet, sal ek U altyd roem met 'n jubelende mond. Psalm 63:6".

Wanneer ons gedagtes gefokus is op die liefde en vrede van God, ervaar ons onbeskryflike kalmte en gemoedsrus.


Wanneer jy jou daarop toespits om God deur elke dag en elke slaaplose nag te vertrou, sal kalmte en vrede oor jou neerdaal.  Jy sal nie net gemoedsrus ervaar nie, maar jy sal jou ook ophou bekommer oor die welstand van jou geliefdes, want jy leef in die versekering dat hulle veilig is in God se liefdevolle sorg.  Deur te focus op Jesus Christus en die vrede en voorspoed wat Hy gee, word jy kalm en vry omdat jy weet God is in beheer van jou lewe.  Hy lei jou op paaie van geregtigheid en daar is geen mens of omstandighede wat jou gemoedsrus kan versteur nie.  Dan maak Hy jou vry van bekommernis en spanning, want sy liefde omvou jou altyd. 

"Hou jou lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het.  God self het gesê; "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie".  Heb 13:5
 

Tuesday 15 October 2013

Leef soos 'n wenner


Leef soos 'n wenner Dis mos 'n 'WOW' gedagte.
Deur God se genade kan jy 'n WENNER elke dag wees! Jy kan doelgerig leef want jy weet waarheen jy op pad is. Jy kan met selfvertroue optree want God suiwer jou mens wees. Jy kan met blydskap die dag begin want die BLYDSKAP in die HERE is jou KRAG!

Rom. 8:37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet.

Monday 14 October 2013

Ouma Kate is nou by ons Heer

Die Liewe Here het ons Ouma Kate kom haal omdat Hy ‘n opening vir ‘n liefdevolle Engel in die Hemel gehad het.  Nou het Ouma Kate ‘n ereplek tuis in my Vader se huis en sy sal in die huis van die Here bly tot in lengte van dae (vir altyd en altyd in die Paradys) Met diep hartseer, maar met groot dankbaarheid dat ons haar mooi lewe kon deel.  Elkeen van ons sal haar onthou vir daardie mooi spore wat sy deur ons lewens getrap het. Ouma Kate jy was nie net ‘n goeie mens met ‘n hart vol van liefde nie maar ook ‘n kind van God. Ek het altyd opgekyk na jou as my ouma ook al is jy my vriendin se ouma . Ek was net so bitter lief vir jou.

Sy was die dapperste mens wat ek geken het.  Met geloof het sy ons getroos-  “alles sal regkom” – so het sy haar seer gedra.  Met waardigheid het sy die mees onwaardigste situasies hanteer.  Sy was sterk en dapper.

Charmaine, julle was haar inspirasie– haar krag - haar rede met onwrikbare geloof dat alles sal uitwerk. Sy was die rugraat wat haar familie regop gehou het, die gom wat die familie saamgesnoer en gebind het. 

Ouma Kate jou plekkie is leeg hier by ons maar mag jy nou in vrede rus by ons Here Jesus, daar waar jy geen meer pyn het nie. 

 



Wees goedgesind tenoor mekaar

Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. Efesiërs 4:32

Jesus sit hier uiteen presies hoe disippels behoort op te tree.  Hulle moet goed doen aan ander sonder om iets terug te verwag.  Dit is nie so maklik nie.  'n Mens doen baie makliker goeie dinge aan ander mense as jy weet dat hulle jou met gasvryheid of vrygewigheid gaan beloon, maar wat Jesus vra, is dat jy bereid sal wees om na ander mense uit te reik en in hulle behoeftes te voorsien sonder om te bepaal of hulle dit verdien.  Kortom:  Jy moet ander mense behandel soos jy graag behandel wil word (Luk 6:31).

Die rede hiervoor kry ons in Lukas 6:36 "Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is".  Dink hoe goed God vir jou is terwyl jy sy genade glad nie verdien nie.  Net so moet jy bereid wees om goed te doen aan ander wat dit ook nie verdien nie.  As jy dit kan reg kry, is jy gehoorsaam aan God se opdrag.  Dan sal jy werklik sy dissipel wees.

Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke.  Die Here sal hom red op die dag van nood.  Psalm 41:2

God onse Vader, dankie Heer dat U my geleer het om goedgesind te wees teenoor ander mense.  Dankie dat ek mense kan vergewe wat my te nakom o Heer.  Help my ook om my mense so te behandel Here soos ek graag behandel wil word.  Dankie dat ek U kind is Heer.  Amen

Thursday 10 October 2013

Maanskyn en Rose

As jy kon kies, sou jy ’n lewe sonder probleme wou hê.
As alles maanskyn en rose was, het jy jouself dalk nooit leer ken nie. Probleme is ’n uitstekende manier om te groei.
Enige moeilike situasie veroorsaak spanning wat jou van balans af kan gooi. Die beste manier om met probleme klaar te speel is om  elke week ’n halfuur opsy te sit om oor jou lewe te dink. Dink aan ’n groot probleem wat jy onlangs gehad het. Skryf jou gevoelens daaroor neer en hoe dit toe uitgewerk het. So is jy meer bewus van wat met jou gebeur en stoom jy nie net voort sonder om uit jou ervarings te leer nie. Ontleed veral jou eie optrede: Wat het tot jou sukses bygedra en wat het jou teruggehou?
Besluit of jy of die situasie moet verander!  As jy kan leer om probleme te sien as ’n kans om te groei, sal jy heeltemal anders begin dink daaroor. Onthou, jou goeie en swak eienskappe is nie onveranderlik nie, jy kan daaraan werk.

Watter probleem jy ook al teëkom, jy kan dit op een van twee maniere oplos. Jy kan besluit dat die situasie moet verbeter. Daar is dalk ’n alternatief wat jy nog nie ontdek het nie. Anders sal jý moet anders word. Om dit reg te kry, sal jy aan jouself moet skaaf sodat jy by die situasie kan aanpas. Moenie jouself dreineer deur net die berg voor jou te sien nie. Gebruik eerder jou breinkrag om aan kreatiewe oplossings te dink.
Kry weer jou balans terug.  Wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan, moet jy maniere kry om jouself te anker. Vir elke persoon is dit anders: Party fokus op oefening; ander skryf in ’n joernaal of geniet tyd in die natuur of om saam met iemand koffie te drink. Jy kan binnetoe (na jou eie gedagtes) óf buitentoe (na die mense om jou) draai.
Een manier waarop jy binnetoe kyk, is om bewus te wees van dit wat rondom en in jou gebeur. Jy moet ten volle “aanwesig” wees.
Dit werk so: Leer om jou van jouself te distansieer, amper asof jy vanaf ’n balkon na jou situasie kyk. Dan dink jy aan die emosies wat jy ervaar en kan jy vooraf besluit hoe jy gaan optree. So kry jy balans en ruk jy dinge nie uit verband nie.

Wednesday 9 October 2013

Here U is my lig

Here, ek gee U my hand. Neem dit en lei my. Dankie dat ek kan weet dat U Lig al is wat ek nodig het vir elke tree.
Gee my vandag die krag om te kan opstaan my toe te maak en net U hand te kan vat en ek weet U sal my lei waar U my nodig het. Amen

Jes. 50:10 Wie in die donker loop en geen lig sien nie, moet op die Here vertrou, moet op sy God steun.