Labels

Monday 30 September 2013

Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.
Wat wil God met jou lewe doen?
Waarom is jy hier?
Waarheen is jy oppad?
Daar is net EEN manier om uit tevind, as jy regtig ernstig is.... Vra vir God.
Word stil vandag en hoor wat God vir jou lewe beplan!


Dankie Here dat ek vandag voor U kan kom stil staan en al my bekommernisse by U los.  Dankie Here dat ek weet U hou my hand vas oral waar ek gaan.  Amen


Tuesday 24 September 2013

"Wat beteken dit as ons sê God is liefde?"


Hoe beskryf die Bybel die liefde:

“Die liefde is geduldig en vriendelik, die liefde is nie jaloers nie, die liefde blaas nie sy eie beuel nie, is nie vol van homself nie. Dit tree nie onwelvoeglik op nie, is nie kort van draad nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit treur oor die onreg wat plaasvind en juig as die waarheid seëvier. Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles. Die liefde sal nooit vergaan nie” (1 Korintiërs 13:4 – 8a). Hierdie is God se beskrywing van liefde en omdat God liefde is (1 Johannes 4:8) is dit ook wie Hy is.


 God dwing Homself nooit op enige iemand af nie, deur Sy liefde vir ons, roep Hy ons tot onsself. God wys sy goedheid aan almal. Jesus doen altyd goed sonder om partydig te wees. Jesus begeer nie wat ander het nie en lei ‘n eenvoudige lewe sonder om te kla. Jesus praat nooit groot nie en blaas nie Sy eie beuel oor wie Hy is nie tenspyte van Sy krag en mag. God dwing nie gehoorsaamheid af nie. God het nie eens gehoorsaamheid van Sy eie Seun vereis nie, in teendeel, Jesus toon Sy gehoorsaamheid gewillig aan Sy Vader. “Die wereld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader aan My opdra” (Johannes 14:31). Jesus het en sal altyd na die belange van ander omsien.

Die beste voorbeeld van God se liefde word gevind in Johannes 3:16, “God het die mensdom so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê”. Romeine 5:8 gee ons dieselfde boodskap: “God laat blyk Sy liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was”. Ons kan deur hierdie verse sien dat dit God se grootste wil is om ons met Hom te verenig en ons na Hom te bring waar Hy in die hemel is, Sy ewige blyplek. God maak hierdie vir ons moontlik deur die prys wat Jesus vir ons sondes betaal het. God is lief vir ons en kies ons om volgens Sy wil te lewe. Liefde vergewe: “As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede” (1 Johannes 1:9).

So wat beteken dit dan eintlik dat God liefde is? Liefde is ‘n eienskap van God. Liefde is die wesenlike aspek van God se karakter en staan vir wie Hy is. God se liefde staan nie in konflik met Sy heiligheid, of Sy reverdigheid, of selfs Sy wraak nie. Al God se eienskappy is perfek. Alles wat God doen is regverdig en verdiend. God is die perfekte voorbeeld van liefde. Deur God se krag en deur die Heilige Gees gee God ook hierdie liefde aan elkeen wat Jesus aanneem as Sy saligmaker en verlosser (Johannes 1:12; 1 Johannes 3:1, 23-24).


 

Sunday 15 September 2013

Vergifnis

"Here hoeveel keer moet ek my broer vergewe?" Jesus antwoord hom: "Nie sewe keer nie, maar selfs sewentig maal sewe keer." (Matteus 18:21-22)
 

Een groot kuns van die lewe is om te weet wat om te vergeet en wat om te onthou.  Mense wil dikwels nie hulle haat en wraakgedagtes vergeet nie.  Hulle word griewe-versamelaars en die proses vergiftig hulle siel en verdryf die liefde uit hulle hart.

Baie mense troetel hulle woede.  Dit word later vir hulle onmoontlik om te vergeet.  Christelike liefde het die groot les geleer om te kan vergeet en te vergewe.  As jy boekhou vand die kwaad wat teenoor jou gepleeg word, is jy geneig om die edele, goeie en mooi dinge van die lewe mis te kyk.
Dit bring ons weer by die vertrekpunt van dit alles:  die vermoë om te vergewe.  As jy nie kan vergewe nie, hou jy boek van die kwaad. As jy boekhou van die kwaad, verloor jy geleidelik die Christelike liefde uit die hart.

Troue God en Hemelse Vader.  Help my om te vergewe en nie boek te hou van die kwaad nie.  U,Here bewys aan ons barmhartigheid en U vergewe, al was ons opstandig teenoor U. Dankie vir elke seëning wat ons uit U hand ontvang. Amen



Vriendskap

Om daar te wees vie mekaar dit is wat vriendskap beteken.
Vriendskap is iets wat gegee word, sonder dat dit gemeet word.
Ware vriendskap is om iemand anders se behoeftes bo jou eie te stel.
Dis om uit te reik na iemand anders, en om bereid te wees om op te offer.
Vriendskap is vertroue, betroubaarheid en lojaliteit. Dit is sy wat daar is vir jou jou "24/7"
 Vriendskap is nie goedkoop nie. Dis skaars en daarom kan ’n mens verwag om slegs ’n paar intieme, ware lojale vriende te hê wat jy volkome in jou vertroue kan neem. Spreuke 18:24 sê daarom: Maats kan jou breek, maar daar kan ook ’n vriend wees wat nader is as ’n broer.
 
Alhoewel vriende kom en gaan in die lewe, laat hulle almal iets agter in jou lewe. Daar is ’n gesegde wat sê: "Daar's vriende vir 'n rede, vriende vir 'n seisoen en vriende vir 'n leeftyd". Of 'n vriendin daar is om jou deur iets te help sy is jou  rede-vriendin of slegs vir 'n ruk sy is jou seisoen-vriendin leer elkeen van hulle vir jou iets oor jouself.
Soms gaan ’n vriendskap op 'n einde kom. So moeilik as wat dit mag wees, is dit als deel van jou lewensplan. Jou ware vriende sal daardie mense wees wat jou deur die pyn help. Dus gaan uit en maak 'n paar vriende – nou is die beste tyd!
'n Roos vir elkeen van my vriendinne

Onthou wees daar vir jou vriendin soos sy vir jou ook daar sal wees.  Dankie aan al my ware vriende wat op my lysie is.  Ek glo waar ons ook nou weer verhuis na 'n nuwe land sal ek ook weer leer om nuwe  vriende maak. Al bly jy ook so ver oor die waters behou jou vriendskappe dit is belangrik, hou kontak met mekaar en wees lief vir mekaar.
 


Saturday 14 September 2013

Stres

 
 
 


Hy gee die vermoeiendes krag, Hy versterk die wat nie meer kan nie. (Jesja 40:29)
 
 
Stres is 'n ekstra eis wat aan jou liggaam gestel word, byvoorbeeld in 'n gevaarlike of spannende situasie.  Dit lei mense tot verskillende reaksies: of mense veg daarteen, of hulle wil wegvlug van die situasie.
 
Hoe kan ek vrede vind in die hart van hierdie orkaan? Ek moet verantwoordelikheid aanvaar vir my eie lewe deur myself te ontdek.  Vanaf hierdie vertrekpuntmoet ek my lewe beplan en my doelwitte bepaal.  Ek moet die blokkasies identifiseer wat groei belemmer en stres vermeerder.  Gun jouself innerlike genesing deur jouself te vergewe soos God jou vergewe.
 
Leer ontspan in 'n toevlugsoord vir die gees:  veredelende vriendskappe,sport poësie,musiek,kuns,die natuurskoon.  Werk onafgebroke aan jou verhouding met die lewende Christus.  Hy gee die genade om stress te hanteer.
 
Troue God en Hemelse Vader, Here vandag kom lê ek almal wat belas is met stres by U voete neer, Help U hulle om al hul bekommernisse by te kom neerlê, Amen

Wednesday 11 September 2013

Dankie vir U beskerming Here


Dankie dat U ons beskerm al voel ons bang
Heer, dankie dat ons al U wonderwerke mag sien
Dankie dat U ons die keuse gee of ons U wil dien
Ons hoef nie in vrees te lewe nie
Want U is die eindpunt waarna ons strewe
Heer, neem ons dankgebed aan in hierdie kort gedig
U is die rede waarom ons kan stap oor hierdie brug
Heer, U gee ons soveel geleenthede om U aan te neem
Help ons terug waar ons van U begin vervreem het
U ken al die opstruksies waarteen ons daagliks vaskyk
U ken al die tekens wanneer ons begin afwyk
Maar my hart jeubel en juig op hierdie dag
Weereens maak U ons oë oop en wys ons U Krag
Nog ‘n geleentheid word geskep waarin ons kan terug keer
Want in U liefde vergeef U ons keer op keer
Dankbaar dink ons terug aan Christus op die kruis, Amen.
 

Dra jy n sonbril of 'n vergrootglas?



Dra jy n sonbril of n vergrootglas?

As gevolg van ons eie sensitiwiteit sien ons dinge deur 'n vergrootglas, stoei ons onnodig met negatiewe emosies. Dit veroorsaak dat jy siek word van bekommernis en jy sien net die donker kant van die lewe. Sit vandag jou sonbril op Ervaar God se sonstrale van seën op jou lewe. Kyk na die positiewe kant van jou lewe.  Jy  lewe, jy is met 'n doel hier vandag!


 

Vat jou goed en trek Ferreira

Ai hoe het ek in twee jaar vergeet hoe dit voel om te verhuis.  Tussen gemors uitsorteer, eiendomsagente wat jou huis deur trap met mense wat belangstel om te huur, kinders wat skree.  Jy moet jou eie 4 potige in toom hou want hy wil almal stukkend lek so opgewonde is hy.  Vannaand kom daar twee gesinne kyk, ek dink hulle gaan mekaar se oë pot blou slaan want altwee stel belang.  Die eerste paartjie kom in met hulle twee kinders wat doen ek, gee elkeen 'n sjokolade in die hand. Ok nee dit is nie omkopery nie, ek begin hulle solank die huis wys.  In die studeerkamer sien die seuntjie my rekenaar aan op facebook hy hardloop na die rekenaar en wil onmiddelik begin speel.  Ma en pa slaan in paniek uit.  Ek sê vir hulle wees rustig los hom hulle kan nie verstaan dat hier stap hulle in my huis in nie en ek is so vriendelik met hulle nie, dit is maar ons Suid Afrikaners se manier, vriendelikhei kos mos niks niks nie.   


Ek is besig om al die buite kussings wat so vol stof lê te was, en intussen skree manlief hy het hulp nodig in die klein hout huisie buite waar al die "gemors" gebere word.  Ek jaag na buite, hy se help net hy moet die hond en kat se vervoer kaste uithaal want dit moet gemeet word.  Ai dit ook nog maar ek hou my asem in en se ok ek help gou.  Haal die fietse uit om by die kaste te kom, hou net gou dit vas se hy.  Hy kyk nie wat hy doen nie ek kan niks sien nie, en raai wat doen hy sit die grootste boks op my middeltoon neer.  Nou sit ek gewond met 'n blou toon, natgesweet, pyn jy noem dit, maar jy mag mos nie kla nie.  Ek het nou 'n nailspa dringend nodig want my naels vat die meeste of sal ek se die ergste spanning  en stress denkbaar.

Nou is dit die diere se papiere uitsorteer, op en af word ek gestuur om emails te print. Doen dit met 'n glimlag want jy het mos niks anders om te doen nie behalwe kos maak tussen in die was en almal gelukkig hou. Dan is dit die papiere vir assuaransi vir as daar dalk iets gebeur met jou meubels. Volgende week kom hulle pak vir 'n volle 2 dae en dan dag 3 kom die skeepshouer om die goed te laai.


Dit is so finaal. Jy is opegwonde enin die selfde asem gestres. Dan is dit skoonmaak en dan kan ek rus vir so 4 dae dan begin ons nuwe lewe.  Sjoe ek kyk terug op ons lewenspad en dink by myself kyk waar was ons en waar is ons nou.  Ek dank die Here elke dag vir Sy genade so onbeskryflik groot.  Hy lei ons op paaie wat ek nooit ooit gedink het ek sou beleef nie.  Dankie Here vir elke geleentheid wat U ons gee. 

Tuesday 10 September 2013

Nederigheid en Hoogmoed

Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die kongkryk van die hemel (Matt 18:4)

Ons liefde vir God word gemeet aan ons daaglikse omgang met ander mense en die liefde wat daardeur uitgestraal word.  Dieselfde geld vir ons nederigheid voor die Here.  Tog is nederigheid teenoor ander die enigste bewys dat ons nederigheid voor God opreg is.  Die enigste bewys dat nederigheid werklik deel is van ons natuur sal wees as ons, soos Christus, leef sonder om agting en aansien te verwag.  Wanneer nederigheid in God se teenwoordigheid nie net 'n houding is wat ons aanneem terwyl ons aan Hom dink of tot Hom bid nie, sal dit gestalte vind in ons optrede teenoor ons naaste.

Die enigste opregte nederigheid is net die wat ons saam met ons dra en in ons elkedagse lewe uitleef.

Troue Here van my lewe, God by wie ek vrede vind.  Here dankie dat ek neederig voor U kan buig vanaand.   Here dankie dat ek ook my naaste kan liefhê. Ons dank U Hemelse Vader dat ons weet dat as ons in nederigheid leef, en U dien kry ons  eer en lewe.  Amen.

Stofstorms van ons lewe


Sjoe en daar is die stofstorm ook weer verby, dankie tog.  Die weer word so snaaks geel dan tel die wind op en dan gaan dit gepaard met die sand/stof. 
Jy raak kwaad want jou huis is nou net skoon gemaak.  Maak nie saak hoe dig toe alles is nie die stof kom nogsteeds in. As jy buite is en so iets tref jou dan is dit ‘n belewenis en hier moet ek nou hardop lag,want jou oë is vol sand, al wat jy in jou mond proe is sand korreltjies. Wie sê sand is nie gesond om te eet nie, ons het dit dan as kinders gedoen. As jy gelukkig is hier in die woestyn dan sal jy so tien korreltjies reën sien val daarna. Dan lees jy in die koerant dat hulle vir die volgende 3 dae elke dag een voorspel, jou moed wil in jou skoene sak. Hieraan raak jy ook gewoond want dit is tog deel van God se mooi al is dit net 'n stofstorm.   
 
 Dra ons tog ook nie storms in ons lewe nie.  Kyk maar om ons heen en sien die mense daarbuite elkeen met hy of sy elkeen met hulle eie pyn.  Dood, geweld, finansiele druk, moord, selfmoord  jy noem dit en dit is daar jy kan nie daarby verby kyk nie.

Maar dan bring die Here Jesus, wanneer ons na  Sy woorde luister en doen wat Hy sê (Matt 7:24), tog weer nuwe perspektief en hoop op alles. Nie dat ons aanvegtinge en ellende ligter sal wees wanneer die storms ons tref nie. Maar wanneer die vloed van vrees en angs oor ons kom, sal Hy ons staande hou!  Wanneer die storms van die lewe aan alles ruk en pluk wat vir ons tot nou toe vas en seker gelyk het, dan sal ons in geloof en vertroue aan Hom veranker wees. Wanneer dit lyk of alles waaraan ons tot nou toe geglo het en wat vir ons belangrik en waardevol was, wil ineenstort, sal Hy dáár wees om ons te versterk. Wanneer dit vir ons wil lyk asof daar geen werklike sin meer in die lewe is nie, sal Hy die sin van ons lewe word. Ons sal leer wat ‘n nuwe lewe in Christus beteken. Dan sal ons beleef dat die volgende waarheid vasstaan: "Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.

Sunday 8 September 2013

My aand gebed vir vir jou


Onse Heilige Vader in die hemel hoog, vanaand kom ek op my kniee en wil U prys dat U inbeheer is. Vanaand vier ek U seën in my lewe! Dankie vir die wonderlike familie en vriende waarmee U my elke dag seën. Dankie vir ons gesondheid wat ons elke dag kan geniet. Dankie vir ‘n omgee en waardeur mekaar familie en vriendekring.  In Lukas 12:7 sê U “Selfs die hare op ons koppe is getel. Moenie bang wees nie!”

Vader, maak ons vanaand rustig dat ons U stem kan hoor en nie die mense se praatjies oor ander mense nie. U sê in U woord (Jakobus 3:8) “maar geen mens kan die tong tem nie.” Help ons om neerhalende mense te vermy en kleinlikheid te bestry! Ons het almal die deurdringende pyn van ander se venynige woorde al beleef. Laat ons nie sal toelaat dat ander mense se beperkte sienswyse van wie ons is, ons menswees sal definieer nie. U woord sê in (1 Petrus 2:1) “Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery.” Here leer ons dat vrede werd is om gekoop te word, sit ‘n wag voor ons monde! In Jakobus 2:20 sê U “Geloof sonder dade is nutteloos....” Maak ons geduldig met ander dat ons nie sal kwaad word nie. Leer ons om twee keer te luister en dan nog te sê, vertel my meer voor ons eenkeer praat. In (Jakobus 1:19) sê U self vir ons: “Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.” Leer ons dat stilte die grootste kunsvorm is van gesprekvoering. Help ons om nie kwaad met kwaad te vergeld nie soos U woord sê in
(1 Tes. 5:15) en dat daar tye is wanneer stilte die hardste praat! Help ons, wanneer hierdie seermaakwoorde ons harte deurdring, dat ons sal vryspreek en vergewe want, so maak U ons vry en gee ons die vrede wat sielerus bring.

 Here help ons om elke dag U volle wapenrusting aan te trek. Die waarheid as gordel, U vryspraak as borsharnas, skoene aan ons voete om U evangelie van vrede te verkondig. En om ons skild op te neem want, met die skild in ons hand kan ons elke dag die bose se brandpyle afweer! Laat ons elke dag sal onthou, dat daar staan geskrywe in (Efesiërs 6:12) ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose geeste in die lug.

Here, ek vra hierdie in die Naam van die Vader, Die Seun en die Heilige Gees dat ons in vrede met mekaar sal lewe. Dat ons mekaar sal seën en nie sal vervloek nie! Amen.

Liefdes Gedig vir jou lewensmaat


Jy's geskape vir my deur die Vader daar Bo
Jy's my ander helfte, dit is wat ek glo
Jy vul my aan, jy maak my ek
Jy beskerm my met jou liefde wat my bedek
Jy's my vrede as die storms woed in my
Jy's my blydskap as die hartseer my wil onderkry
Jy ken my gedagtes selfs beter as wat ek doen
Die bekommernisse in my kan jy verdryf met net een soen
Jou hart is myne, net soos my hart aan jou behoort
En so deur die lewe brand ons liefdesvlam voort
Daar is niemand wat my so volmaak vervul soos jy
By jou sal ek tot in ewigheid bly
Reeds 18 jaar as man en vrou is ons saam
Elke foto van herrinneringe in ons harte geraam
Mag ons liefde, respek en vertroue in mekaar nooit kwyn
Mag ons vir mekaar altyd wees 'n oase in die dorre woestyn
Vandag en veraltyd beloof ek weer:
Deur dik en dun, in rykdom en armoede, deur siekte en gesondheid, tot die dood ons eendag skei
Dat jy altyd my sielsgenoot, my eggenoot, my maat en my liefling sal bly









Bekommernis

"Wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng" Matteus 6:27


Hoe dreigend omstandighede ook mag wees, dit is noodsaaklik dat jy nie sal toelaat dat enige iets of eneige iemand God se sentrale plek in jou lewe inneem nie.  Met Hom as die middelpunt sal jy jou ewewig te alle tye kan handhaaf. 

Wanneer jou hele wese in besit geneem word deur eerbied en liefde vir God, maak jy die wonderlike ontdekking dat vrees nie meer jou denke oorheers nie.  Onsekerheid word vervang deur vertroue.  Die onheilspellende wolke is dalk nog teenwoordig, maar jy sal altyd die silwer rantjie raaksien wat die wolke omsoom en jy sal onwrikbaar weet dat agter elke wolk 'n liefdevolle Vader is wat alles vir jou ten goede laat meewerk.


Hemelse Vader, dankie dat ek weet dat ek my bekommernisse by U kan kom neerle lê en nie daaroor hoef te bekommer nie.  Dankie Here dat ek weet U my so lief het en dat ek U kind is.  Dankie dat ons vriendelike woorde aan ander kan gee om hulle op te vrolik.  Dankie ook dat ons weet alles sal ten goede uitwerk.  Amen

Saturday 7 September 2013

Here ek wil U liefhê met my hele hart

Hemelse Vader, ek wil U graag liefhê met my hele hart, omdat U my van harte liefhet.



Ek weet dat U my hart deur en deur ken; en dat ek niks vir U kan wegsteek nie.  Vergewe my dat my hart van geboorte af so bedrieglik is; dat ek so sukkel om dit op die regte koers te hou.  Bring rus in my rustelose hart en leer my om op U te wag en U volkome te vetrou.  Help my om my hart en my skat op dieselfde plek te hou.  Dankie vir U woorde wat ek in my hart kan bêre; U woorde wat vir my wys wat reg is en wat verkeerd is. Ek loof U vir U belofte dat u my harde kliphart met 'n nuwe, sagte hart sal vervang, sodat ek U gebooie sal gehoorsaam.  Gee asseblief vir my 'n rein hart, Here, 'n hart wat op U gefokus is.  Leer my om my woorde oordeelkundig te gebruik en sny al die lelike dinge uit my lewe weg wat nog deel vorm van my sondige geaardheid.  Here Jesus, ek wil nou met my hart glo en met my tong bely dat U die Here is. 
Vul my hart met die nodige eerbied vir U.  Van nou af wil ek my dankoffer vir U uit my hart gee; ek wil my werk so doen dat my hart daarin sal wees.  Ek wil ook graag dieselde gesindheid wat daar in U was, in my eie hart hê.  Maak dit vir my moontlik Heer. Amen

Wees Lief vir mekaar


Christus se liefde inspireer ons; wees lief vir mekaar.

Christus se liefde vir ons is die antwoord vir die wêreld en vir elke verhouding waarin ons staan. Dit is Sy opdrag dat ons mekaar moet liefhê.
"Ek gee jul 'n nuwe opdrag; Julle moet mekaar liefhê; soos ek julle liefhet, net so moet julle mekaar liefhê."  Joh 13:34

Friday 6 September 2013

God is groter as enige storm

Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring.  Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. Gen 45:5
 
Miskien sal julle nooit die rede vir jou persoonlike storm verstaan nie, tog kan jy, soos Josef, weet dat jou lewe deel vorm van God se plan vir jou en vir die wêreld.  Al kan jy nog nie die plan raaksien nie, is God in volkome beheer, ook al voel dit vir jou asof die storms jou wil oorweldig.  Daar is een feit wat jy behoort te besef: God sal nooit 'n storm oor jou lewe toelaat wat te moeilik vir jou sal wees om in Sy krag te deurstaan nie.
Josef is deur sy broers verkoop, hy het ook onskuldig in die tronk beland vir iets wat hy nie gedoen het nie.  Maar God het juis 'n plan met Josef se lewe gehad, en eers na baie jare het Josef daardie plan ontdek.  Hy moes na Egipte gebring word en al die swaarkry deurmaak met die doel om later sy familie te kon red.  
 
Die storm wat op die oomblik in jou lewe woed, mag dalk sterker as jy wees, maar God is veel groter en magtiger as enige storm.  Vertrou op Hom om jou veilig deur die storm van die oomblik te lei, eerder as om redes vir die storm in jou lewe te soek.  Soek liewer na God se doel en wil vir jou lewe.  Eers wanneer jy dit gevind het, sal alles volmaak in plek val.
 
Hemelse Vader, ek kan nie die rede vir die storm in my lewe verstaan nie, maar ek glo dat ook U het 'n plan met my lewe.  Here ek vertrou op U om ook hierdie storms in my lewe stil te maak en tot bedaring te bring. Amen
 
 

Thursday 5 September 2013

My gebed vir jou Vanaand

Here, dankie dat U graag luister as U kinders met U praat.  Dankie dat U luister na die hulpgeroep van mense in nood.  Help ons om minder te praat en laat die stemme in ons tot rus kom;  Gee ons ‘n begeerte om werklik eers te luister voor ons praat of iets doen.  Help ons om te luister na hoe U hart vol liefde en deernis klop vir mense in nood, mense wat gebroke is. Help ons om met deernis en respek te luister na mense se verhale van nood.

Help ons om mooi te hoor wat ons kan doen om mense in nood by te staan en te help, help ons om dit met die gesindheid van Jesus te doen.  Gee dat ons ook die onsensitiwiteit en onreg teenoor weerlose mense sal hoor en gee ons die moed om dit aan te spreek.  

Ons bid dit in Jesus se Naam. Amen
 
 

Pappa ek Mis jou so baie

Somtyds voel ek so alleen en ek is seker my moeder en sussies voel ook so.  My dierbare pappa het op 22 Desember 2009 sommer skielik heengegaan, net so in sy slaap. 


Pappa was so maand en half voor dit gediagnoseer met Guillain-Barre syndrome en ongelukkig het dit sy longe eerste aangetas. Met sy verjaarsdag in November was hy nog in die hoësorg eenheid en hulle het vir hom partytjie gehou. Ek sal dit nooit vergeet nie.  Ons het letterlik soos ‘n familie uitgekamp voor die hoësorg eenheid deure by Westville Hospitaal.  Soveel vriende, soveel oproepe van mense wat omgee. Min het ons geweet hoe lank hy nog met ons gaan wees.


Ma pa was so 'n liefdevolle mensie.  Het nooit enige iemand skade aan gedoen nie.  Hy het altyd vrede probeer hou as daar ‘n bakleiery was.  Hy het hard gewerk vir sy familie.  As ons iets sou vra het hy nooit geweier en gese nee nie. Hy het my ma aanbid, as daar nou ‘n voorbeeld was van twee mense wat mekaar liewer as lief kon hê, dan was dit hulle twee.

Mamma en Pappa
Die oggend toe die telefoon 5 uur lui en mamma se pappa is nou net weg het ek eers net gesit en staar na die instrument asof dit vir my jok.  Daarna het die trane gekom want ek het besef ek gaan daai “Idol” van my nooit weer sien.  Ons het dadelik gepak en in die kar geklim en al die pad van die Kaap af gery Durban toe.  

Wat deur jou gedagtes gaan sal net jy verstaan.  Hoe kan die Here dan die een persoon wat jy so liefhet sommer net wegvat.  Ek weet my pa was ‘n kind van die Here en ek weet vandag dat hy op ons neerkyk van daarbo en ek weet hy hou sy hand van bewaring oor ons.

Ons moet onthou dat die Here leën ons net vir die aarde en kom haal sy kosbare besittings.  Dit maak nie saak hoe oud of hoe jonk jy is nie.  Vandag het ek vrede in my hart telkens ek het nog altyd van na sy dood vrede gehad.  Ek weet Hy sit vandag by Jesus se voete, geen meer pyn, geen meer lyding nie.
Pa en sy 3 dogters op wie hy baie trots was


Sy roudiens was die 24ste Desember op Oukersdag.  Hoe hou jy Kersfees as jy weet jou vader is dan nou net weg.  Ons het daai dag as gesin saam deur gebring al was dit hartseer maar ons het gejubbel en gejuig want ons weet mos pappa is nou by Jesus en hy het ‘n goeie lewe gehad. Hy sou nie wou hê dat ons daar moet sit treur oor hom nie. 


Pappa ek sal altyd lief wees vir jou dit maak nie saak hoeveel jare verby gaan nie.  Jy was my Alfa my Omega die een wat my groot gemaak het en vir wie ek soveel respek gehad het.  

Pa het my soveel van die lewe geleer om niks as van selfsprekend te aanvaar nie maar om te werk vir dit wat jy het. Pa vir jou het ek so lief net pa sal dit weet.


Top of Form

Seën


Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien en Sy wil doen.  Kyk, so word die man geseën wat die Here dien.  Psalm 128:1,4
 
Baie mense is onbewus of onkundig oor die onmeetlike vrygewigheid van God.  Hulle eie behoefte of nypende armoede verblind hulle en vervreem hulle van die Een wat hulle lyding kan verlig en hulle armoede in weelde kan omskep.
Die skrif openbaar aan ons die verblydende feit dat God baie gewilliger is om te gee as wat ons is om te ontvang.  As ons net opreg en gelowig wil bid en glo, kan  ons dit ontvang waarvoor ons bid.
As jy aan jou Hemelse Vader 'n versoek rig, moenie saam met jou versoek die twyfel huisves dat Hy nie jou versoek kan toestaan nie.  So 'n gesindheid skep wantroue, en gebede word nie beantwoord voordat twyfel met geloof vervang word nie.  God hoor jou gebed en sal in elke behoefte voorsien uit die rykdom van Sy genade.
 
Here God, dankie dat U oor ons die wag hou.  Dankie dat U seën oor ons uit gestort word.  Help ons o Heer om nie te twyfel as ons na U toe kom met ons bekommernisse nie, dat ons dit in U hande los.  Dankie Heer vir U liefde onvoorwaardelik.  Amen
 
 

Wednesday 4 September 2013

God se Liefde

God se liefde is baie groter as 'n doen-dit-eers-plan!

Sy liefde vir jou is:
Onvoorwaardelik, Oorvloedig
Sy vergifnis is: Volkome
Sy verlossing is: Verseker

 Ps 18:20 Hy het my in vryheid laat uitgaan, my gered omdat Hy my lief het.

Hemelse Vader, Ek sal vandag nie vrees nie, Want ek woon in U skuilplek. U is my toevlug, My God op wie ek vertrou. Aan die begin van hierdie dag, Maak ek aan U 'n belofte: Ek sal vandag ten volle op U vertrou, Die hele dag deur. Dankie dat U my bystaan en help om my belofte na te kom. Dankie Heer vir U genage onbeskryflik groot. Amen.



Hoop

Hoop

Hy stel prys op die wat Hom dien, die wat hulle hoop vestig op sy trou (Psalm:147:11)

As jy reeds ver gevorder het op die pelgrimsreis, mag jy geneig wees om te dink dat jy geen grond of reg het om te hoop nie.  Jy leef egter vandag, en dit is die kosbaarste wat God aan jou gegee het.  Benut elke uur van elke dag optimaal en moet dit nie bederf deur jou oor die kortstondigheid van die lewe te verknies nie.

Hou vas aan die sekerheid dat, op watter stadium van die lewensreis jy ook is, God sy beste vir jou bewaar het.  As kind van God het jy die hoop op die ewige lewe.  Al is hierdie lewe 'n stryd en al wink mooi herinneringe van gister jou die verlede in, gryp goue dag wat God jou skenk en leef voluit tot Sy eer.  Hou hoop brandend in jou hart en onthou dat die toekoms vol geleenthede is omdat jou God ook in die toekoms is.

My Pêrel Ma



My mamma het altyd ‘n glimlag op haar gesig! Liefde in oorvloed om uit te deel vir die wat sukkel.Sy vertroos ook altyd almal wat hartseer is.  Gister is die huishulp se sussie dood en net daar en dan kom sit sy by mamma op die bed vir vertroosting. Ma gee haar so vet boere drukkie en doen eers ‘n gebed vir haar.  

Selfs al het sy dit nie breed nie gee en deel sy met almal, meer nog haar liefde deel sy uit aan almal wat dit soek. Haar arms neem alle bekommernisse en pyn uit jou lyf as sy dit om jou vou. Sy sorg vir ons almal emosioneel en as ons bekommernisse het. Selfs al val sy en beseer haar arm ernstig sal sy net stil bly en voortgaan om ander te help en by te staan. Sy is die rots met die sagte hart. Almal kom eerste behalwe sy.  

Dankie Mamma vir die voorbeeld wat my gemaak wat ek vandag is.  Niks is ooit moeite vir ma en word met liefde uitgevoer. Ek lief jou ongelooflik baie my Pêrel Ma.
Ai hoe verlang ek nou as kind het ek altyd die liedjie uit volle bors gesing.



AS HY WEER KOM, AS HY WEER KOM,
KOM HAAL HY SY PêRELS,
AL SY PêRELS, FRAAIE PêRELS
VIR JESUS SE KROON.

KOOR:
JA, DIE KINDERGESIGGIES,
SOOS DIE STERRE SE LIGGIES,
IS DIE HEMELSE PêRELS
VIR JESUS SE KROON.





VIR DIE HEMEL, VIR DIE HEMEL
SAL HY HUL VERSAMEL,
AL DIE SKONES, AL DIE WITTES
VIR JESUS SE KROON.

AL DIE KINDERS, AL DIE KINDERS,
VOL LIEFDE VIR JESUS,
IS DIE PêRELS, KOSB'RE PêRELS
VIR JESUS SE KROON.