Labels

Friday 6 September 2013

God is groter as enige storm

Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring.  Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. Gen 45:5
 
Miskien sal julle nooit die rede vir jou persoonlike storm verstaan nie, tog kan jy, soos Josef, weet dat jou lewe deel vorm van God se plan vir jou en vir die wêreld.  Al kan jy nog nie die plan raaksien nie, is God in volkome beheer, ook al voel dit vir jou asof die storms jou wil oorweldig.  Daar is een feit wat jy behoort te besef: God sal nooit 'n storm oor jou lewe toelaat wat te moeilik vir jou sal wees om in Sy krag te deurstaan nie.
Josef is deur sy broers verkoop, hy het ook onskuldig in die tronk beland vir iets wat hy nie gedoen het nie.  Maar God het juis 'n plan met Josef se lewe gehad, en eers na baie jare het Josef daardie plan ontdek.  Hy moes na Egipte gebring word en al die swaarkry deurmaak met die doel om later sy familie te kon red.  
 
Die storm wat op die oomblik in jou lewe woed, mag dalk sterker as jy wees, maar God is veel groter en magtiger as enige storm.  Vertrou op Hom om jou veilig deur die storm van die oomblik te lei, eerder as om redes vir die storm in jou lewe te soek.  Soek liewer na God se doel en wil vir jou lewe.  Eers wanneer jy dit gevind het, sal alles volmaak in plek val.
 
Hemelse Vader, ek kan nie die rede vir die storm in my lewe verstaan nie, maar ek glo dat ook U het 'n plan met my lewe.  Here ek vertrou op U om ook hierdie storms in my lewe stil te maak en tot bedaring te bring. Amen
 
 

No comments:

Post a Comment