Labels

Thursday 10 October 2013

Maanskyn en Rose

As jy kon kies, sou jy ’n lewe sonder probleme wou hê.
As alles maanskyn en rose was, het jy jouself dalk nooit leer ken nie. Probleme is ’n uitstekende manier om te groei.
Enige moeilike situasie veroorsaak spanning wat jou van balans af kan gooi. Die beste manier om met probleme klaar te speel is om  elke week ’n halfuur opsy te sit om oor jou lewe te dink. Dink aan ’n groot probleem wat jy onlangs gehad het. Skryf jou gevoelens daaroor neer en hoe dit toe uitgewerk het. So is jy meer bewus van wat met jou gebeur en stoom jy nie net voort sonder om uit jou ervarings te leer nie. Ontleed veral jou eie optrede: Wat het tot jou sukses bygedra en wat het jou teruggehou?
Besluit of jy of die situasie moet verander!  As jy kan leer om probleme te sien as ’n kans om te groei, sal jy heeltemal anders begin dink daaroor. Onthou, jou goeie en swak eienskappe is nie onveranderlik nie, jy kan daaraan werk.

Watter probleem jy ook al teëkom, jy kan dit op een van twee maniere oplos. Jy kan besluit dat die situasie moet verbeter. Daar is dalk ’n alternatief wat jy nog nie ontdek het nie. Anders sal jý moet anders word. Om dit reg te kry, sal jy aan jouself moet skaaf sodat jy by die situasie kan aanpas. Moenie jouself dreineer deur net die berg voor jou te sien nie. Gebruik eerder jou breinkrag om aan kreatiewe oplossings te dink.
Kry weer jou balans terug.  Wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan, moet jy maniere kry om jouself te anker. Vir elke persoon is dit anders: Party fokus op oefening; ander skryf in ’n joernaal of geniet tyd in die natuur of om saam met iemand koffie te drink. Jy kan binnetoe (na jou eie gedagtes) óf buitentoe (na die mense om jou) draai.
Een manier waarop jy binnetoe kyk, is om bewus te wees van dit wat rondom en in jou gebeur. Jy moet ten volle “aanwesig” wees.
Dit werk so: Leer om jou van jouself te distansieer, amper asof jy vanaf ’n balkon na jou situasie kyk. Dan dink jy aan die emosies wat jy ervaar en kan jy vooraf besluit hoe jy gaan optree. So kry jy balans en ruk jy dinge nie uit verband nie.

No comments:

Post a Comment